Amore Bekker

Amore is ‘n gewilde radio omroeper en openbare spreker. Sy het veral bekendheid verwerf as aanbieder van Tjailatyd op RSG, wat weeksmiddae tussen 15:00 en 18:00 uitgesaai word. Haar filosofie is: No guts, no glory. Sy hou gereeld praatjies oor hoe ‘n mens se instink werk en oor een van haar grootste passies in die lewe… kos. Tydens so ‘n praatjie berei sy ‘n gereg op die verhoog voor terwyl sy haar wyshede met die gehoor deel. Amore is mal oor reis en haar gunstelingstad is Istanbul. Dan het Amore ook ‘n voorliefde vir lees en praat. Amore ondersteun ook ‘n welsynsorganisasie, BADISA, wat dienste lewer aan armoedige mense in die Wes-, Oos- en Noord-Kaap. Sy onderskryf hul ‘Water vir Lewe’-projek. Dit behels die verkoop van gebottelde water om betrokkenheid uit te beeld en geld in te samel om mense te help. Soos water wat lewe gee, gee hulle hoop en betekenis aan mense in moeilike omstandighede. In 2010 en 2011 is Amore gekies as die gewildste Afrikaanse omroeper en het al verskeie ATKV-Veertjies verower. Sy het in Oktober 2017 die leisels as hoofaanbieder van VeranderDinge by Ruda Landman oorgeneem.

.

Eloise Cupido

Eloise Cupido is ’n aktrise, TV-aanbieder, sanger, skrywer en seremoniemeester. Sy is gebore en getoë in die klein plattelandse dorpie Montagu, in die Wes-Kaap en het haar BA Drama graad aan die Universiteit van Pretoria verwerf met Frans en Duits as ekstra tale (sy is Frans, Duits, Engels en natuurlik haar moedertaal, Afrikaans, magtig). As TV-aanbieder, is Eloise welbekend vir haar werk in ‘Athletics Alive’, ‘Invent Yourself’, ‘Belboks’ en die leefstylprogramme: ‘Pasella’, ‘Kwêla’ en ‘Artcha’. As TV-aktrise was Eloise in die internasionaal bekroonde ensemble mediese dramareeks, ‘Jozi H’, in ‘Vetkoekpaleis’ en ‘Generations’ te sien. Sy het ook rolle in ‘Die Vierde Kabinet’, ‘Arsenaal’, ‘It Rained Last Night’ en ‘Home Affairs’ vertolk. Eloise is deesdae ook bekend as ’n brilljante komediant! Sy was te sien in ‘Spekskieters’, ‘Kompleks 2’ en ‘Proesstraat’ en meer onlangs, ‘Colour TV’. Die groot eer het Eloise in 2011 te beurt geval om die Aankondigingseremonie vir die 2018 Winter Olimpiese Spele aan te bied, saam met Jonathan Edwards (voormalige Olimpiese en Wêreld Kampioenskap Goue medalje wenner in die Driesprong). Sy het in 2014 haar debuut musiekalbum, ‘Girl van die Klein Karoo’, bekendgestel en doen gereeld musiekvertonings. Eloise is in Junie 2016 getroud met ’n Kiwi, Chris Wilkinson, en hulle het vroeër die jaar ouers van ‘n seuntjie geword.